News From Kwarts Publishers

Nuwe boek bekendgestel: Wie is Gottlieb?



"WIE IS GOTTLIEB?"

Dit is die tergende vraag wat telkens opduik in dié bundel wat hoofsaaklik handel oor ‘n joernalis-radiopersoonlikheid en TV-aanbieder se ontmoetings met mense, sommige van hulle onder die groot nuusmakers van die een en twingste eeu, bekendes en minder bekendes oor ‘n tydperk van bykans drie dekades teen die agtergrond van seker die mees dramatiese tydvak in Suider-Afrika se geskiedenis. Benewens die bekendes, onder wie staatshoofde, internasionale politieke figure en selfs ‘n ruimteman, is daar stories oor gewone mense met uitsonderlike stories. Hy vertel onder andere van die Dierefluisteraar van Otjiruse en die spookgedaante in die Namib. Die leser maak ook kennis met die leefwyse van die legendariese Himba’s van Kaokoland en deel die skrywer se belewenisse, waarnemings en indrukke tydens die Bosoorlog en Namibië se onafhanklikheids-proses waaroor hy oor ‘n redelike lang tydperk in diepte verslag gedoen het. 

Maar dit gaan wyer as blote stories. Elke insident hou iets in wat die leser se gedagtes op een of ander wyse sal stimuleer. Dieperliggend gaan dit oor wat die belewenisse vir die leser mag inhou. Die bedoeling was deurentyd om die rol van waarnemer en aanhoorder te vervul. Op sy diepste gaan die versameling in sy totaliteit oor die skrywer se diepste belewenisse, ‘n deurlopende verhouding met ons Skepper en ‘n persoonlike, aangrypende ontmoeting met Hom in al sy glorie. Daarom die titel Wie is Gottlieb? Die verwagting is dat die leser sodanig geprikkel sal word om deur te druk tot die einde, waar die antwoord verskuil lê. 

Die skrywer se wens is dat die ontknoping - en die verrasssing wat daar wag - die sleutel en dryfveer sal wees tot geïnspireerde selfondersoek waar gemoedere verfrissend hernuwe word en vars, hersiene perspektiewe en insigte na vore sal kom. Ook dat ou paradigmas oor die lewe, onsself, ons roeping op aarde, geestelike groei en, bowenal ons verhouding met God, in ‘n nuwe lig gesien sal word. Die bundel sluit ook ‘n aantal gedigte in wat die skrywer se liefde vir die natuur en sy medemens verwoord.

DIE SKRYWER 

Johann Britz se kinderdroom om eendag ‘n omroeper te word, is eers op 32-jarige ouderdom verwesenlik. Dit was ná waardevolle ervaring van tien jaar in die joernalistiek, waartydens hy verbonde was aan die redaksies van ‘n verskeidenheid dag- en weekblaaie in Johannesburg, Pretoria en Windhoek. In sy meer senior jare - ook later vir radio en TV – het hy as politieke en militêre korrespondent verslag gedoen oor die Bosoorlog en die Namibiese onafhanklikheidsproses. In 1977 was hy saam met wyle dr Jan Spies medestigter van die DTA-mondstuk, Die Republikein. In 1985 het hy sy uitsaailoopbaan tydelik onderbreek om by die redaksie van Die Burger in Kaapstad aan te sluit. Hy het in 1986 teruggekeer na die SWA Uitsaaikorporasie, waar sy uitsaailoopbaan in 1979 begin het. 

Johann het in 1992, ná bykans 20 jaar in Namibië, na Suid-Afrika teruggekeer en het onder andere as skakelbeampte gewerk en sy eie handelsdrukkery bestuur. In die tyd was hy ook vryskut-aanbieder by Radio Oranje (nou OFM), totdat hy in 1999 na São Paulo in Brasilië verhuis het, waar hy as lektor in Engels-taalvaardigheid aangestel is. 

Ná sy terugkeer in 2001 was hy as lektor betrokke by ‘n stemopleidingsakademie in Randburg en later as aanbieder en bestuurslid by ‘n gemeenskapsradiostasie in Mpumalanga. Tans is hy ‘n gasaanbieder op ‘n ander gemeenskapstasie op die Hoëveld. Hy saai regstreeks via die Internet uit vanaf sy tuisateljee in ‘n aftree-oord buite Modimolle (Nylstroom) in Limpopo. Hy bestee nou ook meer tyd aan skryf en doen grafiese uitleg vir ‘n verskeidenheid organisasies. 

Op sportgebied het hy Namibiese nasionale kleure verwerf as sportadministrateur. Hy reis graag en het tot dusver 33 lande op vyf vastelande besoek. 

WIE IS GOTTLIEB? is as e-boek beskikbaar, asook in gedrukte formaat. Die gedrukte weergawe kan by die skrywer self bestel word. E-pos navrae na [email protected] Die telefoonnommer is 081 872 6252.

Comments are closed for this post, but if you have spotted an error or have additional info that you think should be in this post, feel free to contact us.

Subscription

Get the latest updates in your email box automatically.

Search

Archive