"Waarom ek Meer as ‘n Metafoor geskryf het"


My storie is seker maar so klein bietjie soos dié van Neo in die scifi film, The Matrix. Jy vermoed toenemend daar iets met jou persepsie van die werklikheid skort en jy begin om die voor-die-hand-liggende te bevraagteken. Bedags verdien jy jou brood en botter, maar snags lees en soek en wonder jy om jou kophonger na antwoorde oor die heelal en jou plek daarin te probeer stil. En dan, op ‘n dag, kom klop Alice van Wonderland se haas aan ‘n deur in jou kop en besluit jy om hom te volg, al die pad deur die eindelose haasgat in die hoop dat jy na alles dalk by antwoorde sal uitkom.

 

Dit was in hierdie haasgat waar ek my weg deur nuwe inligting moes beur, geheel en al buite my geriefsone. Ek sou nie in kwantumfisika, holografie, rekenaars, sellulêre outomate, biologie, superorganismes, virtuele realiteit , filosofie en meer  belang gestel het as dit nie was dat die haas se pad dwarsdeur hierdie velde geloop het nie.

Wat is meer belangrik as om te verstaan wat werklikheid werklik is? Die antwoord bepaal nie net wat ons kan weet nie, maar ook hoe ons weet wat ons glo ons weet. Enigiets anders is detail. Ek wou by die bodem van dinge uitkom en dit so ver as moontlik verstaan.

 

Vir my was die deur in my kop wat oopgegaan het die eenvoudige besef dat ons oë nie vensters  of kamaralense is waardeur ons die wêreld sien soos dit is nie. Wat ons met ons oë en ander sintuie waarneem, is elektromagnetiese golwe en dis ons breine wat dit vir ons bewussyne omskakel in die bekende voorwerpe van ons wêreld, toegedig met kleure, klanke, reuke, teksture, smake  en dies meer wat nêrens in die golwe self te vinde is nie. In die afwesigheid van sintuie, ‘n brein en bewussyn is daar net golwe. Hoewel dit ‘n aanvaarde wetenskaplike feit is dat die werklikheid wat ons sintuiglik registreer fundamenteel verskil van wat “daar buite” is, is dit verstommend hoe min mense – ook ‘geleerde’ mense  – dit besef, of glo. So, die Sherlock Holmes in my het na vore getree en wou meer weet…


Ek het gelees van Alan Aspect se bekende eksperiment wat  bo alle twyfel gedemonstreer het dat deeltjies op die een of ander wyse gekoppel bly nadat hulle interaksie gehad het, ongeag van die afstand of tyd wat hulle skei, asof die tyd en ruimte tussen hulle nie bestaan nie. Dit dui op ‘n holografiese heelal, ‘n idee wat deur swartgatnavorsing ondersteun word: die driedimensionele ruimte wat ons ervaar is ‘n projeksie van inligting op die tweedimensionele kosmologiese horison. Dit is bisar, maar kan nie vir daardie rede geignoreer word wanneer die vraag oor wat realiteit is, bespreek word nie.

 

En dan was daar die bekende twee-gleuf eksperiment wat bo alle twyfel demonstreer dat deeltjies, in die afwesigheid van ‘n waarnemer, bloot as ‘n wiskundige waarskynlikheid – die sogenaamde golffunksie - bestaan en eers as deeltjies materialiseer wanneer iemand ‘n waarneming maak. Voordat iemand kyk het die vraag “Waar is die deeltjie?” geen betekenis of antwoord nie – daar is slegs ’n golf van waarskynlikheid dat dit hier of daar sal materialiseer. Realiteit materialiseer op versoek, soos programmering wat op versoek op ‘n rekenaarskerm as woorde, beelde ensovoorts verskyn.

So is daar daar talle ander welbekende wetenskaplike eksperimente met kontra-intuitiewe resultate so bizar dat Niels Bohr opgemerk het dat enigeen wat nie geskok is deur kwantumteorie nie, dit nie verstaan nie. Min wetenskaplikes bevraagteken die resultate van hierdie eksperimente. Dis die interpretasie daarvan waaroor daar verskil word. Ek skaar my by die mening dat die ‘onnatuurlike’ gedrag van die natuur ‘doodnatuurlik’ word as ‘n mens die heelal as ‘n holografiese rekenaarsimulasie beskou.

 

En dis met hierdie oortuiging wat ek Meer as ‘n Metafoor na meer as twee dekades se lees- en dinkwerk aangepak het.  Ek het ‘n naïewe beskouing van die holografiese rekenaarsimulasie gehad … iets soos die filosoof Nick Bostrom se ‘onfeilbare’ logiese afleiding dat ons tien teen een ‘n voorouer-simulasie is wat deur ons nageslag, iewers in die kosmologiese toekoms,  geskep is, en dat dit krioel van soortgelyke simulasies. Met die skryf van Meer as ‘n Metafoor het ek egter besef dat die redenasie nie water hou nie en die idee opgegee. Ek sou later in ‘n artikel wat die media as sy ‘killer argument against the multivers’ beskryf,  lees  dat die fiskus Paul Davies vir dieselfde redes as my eie teen die multiverse redeneer . Ons realiteit het veel meer om die lyf.

 

Maar watter soort simulasie is die heelal dan? Leidrade het uit absoluut onverwagte bronne gekom, naamlik ons eie Jan Smuts en Eugene Marais. Ek het geen benul gehad dat Smuts nie net ‘n staatsman was nie, maar ook ‘n wetenskaplike. Einstein het Smuts uitgesonder as een van net elf mense wat sy teorieë van relatiwiteit verstaan het en Einstein het geglo dat Smuts se toerie van holisme die wetenskap van die volgende eeu sou rig. Smuts se Holism and Evolution het geweldig baie gehelp om my te laat verstaan hoe die heelal in beheer van sy eie ewolusie kan wees deur die ‘top-down’ kousaliteit wat Smuts holistiese seleksie genoem het. Water dien as ‘n goeie voorbeeld van Smuts se holisme. Die chemiese samestelling H2O verskil kwalitatief van die onverbinde elemente waterstof en suurstof – water het ’n nuwe struktuur met nuwe fisiese en chemiese eienskappe. So is die geheel as ’n biologiese organisme is ’n oneindig meer komplekse struktuur met baie meer komplekse aktiwiteite en funksies as ’n blote chemiese samestelling. Maar dit moet nie beskou word as iets verwyder van die dele nie – dit is die kern van die konsep van ’n geheel dat die dele in ’n nuwe, spesifieke kombinasie verenig, in ’n spesifieke interne verwantskap, ’n kreatiewe sintese wat dit onderskei van alle ander kombinasievorms. So verrys eers lewe en dan verstand, gevolg deur persoonlikheid.

 

Eugene Marais se konsep van superorganismes het perfek hierby aangesluit. Al besef ons dit nie, is superorganismes die dominante vorm van lewe op aarde. Dit is nie net sosiale insekte wat superorganismes is nie; ook die menslike liggaam is een. Die mikrobiese selle in ons liggaame is minstens tien keer meer as ons eie en en bevat ten minste tien keer meer DNA as ons eie genoom. In ruil vir kos en skuiling biedien hierdie mikrobes ons, die gasheer, met metaboliese funksies ver buite die omvang van ons eie fisiologiese vermoëns. In hierdie opsig kan die menslike liggaam beskou word as 'n superorganisme; 'n gemeenskaplike groep van menslike en mikrobiese selle. Alles werk saam vir die voordeel van die kollektiewe. Selfs die organelle binne die sel het in die verre verlede onafhanklik geleef en met tyd hul belange verenig binne een selmembraan. DIt bring ‘n mens noodwendig by die vraag of die heelal, as die entiteit wat alle entiteite omvat, nie self ‘n superorganisme is nie.

Nog ‘n bekende Suid-Afrikaner, Elon Musk, is uitgesproke daaroor dat hy glo ons heelal ‘n simulasie en ‘n superorganisme is. Hoe verbind ‘n mens hierdie twee konsepte? Dit is waar die filosoof Hegel die kollig betree en dis geen wonder dat Musk Hegel se werk goed ken nie. Die laaste hoofstuk van Meer as ’n Metafoor poog om die gedagte van ‘n holografiese simulasie met ‘n Skepper te versoen. Die heelal is nie die resultaat van programmering nie, maar van Bewussyn wat kan programmeer en uit homself, vir homself, ‘n simulasie kan skep sodat hy homself kan waarneem. Ons is die heelal se saamgestelde oog waarmee hy homself kan waarneem en kan ken.

 

Die intellektuele dissipline wat die skryf van ‘n boek verg, het wat my herhaaldelik in my spore laat stop het om gekoesterde idees te heroorweeg en op te gee as hulle nie logies verdedigbaar was nie. ‘n Hele paar heilige koeie het in die slag gebly. Ek het nie by die oortuigings geëindig waarmee ek begin skryf het nie, maar ek glo dat ek vandag ‘n meer verdedigbare lewensbeskouing het wat dieper in waarheid geanker is. As ek net dit reggekry het, was dit die moeite werd.

 

Ek vertrou dat Meer as ‘n Metafoor ‘n bydrae sal lewer, al is dit hoe gering. Daar is soveel uitstekende boeke wat handel oor kwantumteorie, holografie, holism, sellulêre outomate, superorganismes en dies meer, maar ek het nog nooit een raakgeloop wat al hierdie konsepte in een legkaart kombineer nie. Meer as ‘n Metafoor is my beskeie poging om dit reg te kry.

 

deur Maryna Blomerus