News From Kwarts Publishers

Dis 'n kuns om 'n kortverhaal te skryf

‘n Kortverhaal is …  

(Saamgestel deur Marietjie Wentzel)

Minder kompleks as ‘n roman en moet in een sessie klaar gelees kan word. Kortverhale konsentreer op slegs een gebeurtenis, het ‘n enkelvoudige komplot/verwikkelingsplan en toneelskikking, met min karakters, speel oor ‘n kort tydsduur af, stel bepaalde eise, soos ‘n strak bou, uiterste konsentrasie, snelle verloop, en soms ‘n verrassende slot. Dit kan werklike of fiktiewe gebeure as tema hê met nie minder nie as 2,501 en ‘n maksimum van 7,500 woorde.

Dit kan die volgende patroon volg: uiteensetting (inleiding van toneelskikking, situasie en hoofkarakters); verwikkeling (gebeurtenis wat die konflik bekendstel); stygende aksie, draaipunt (die beslissende moment vir die hoofkarakter en sy verbintenis tot die handelwyse); klimaks (punt van hoogste belang in terme van die konflik en die punt van meeste aksie); ontknoping (die punt wanneer die konflik opgelos word); en die sedeles. Weens die lengte, kan kortverhale hierdie patroon volg alhoewel moderne kortverhale net partykeer ‘n uiteensetting het. Dit begin plotseling met ‘n storie wat in die middel van die aksie afskop. Dit het ‘n klimaks en krisis/draaipunt, maar sommige kortverhale eindig plotseling met ‘n oop einde en kan met of sonder ‘n sedeles wees.

Hoe verskil ’n kortverhaal, essay en skets van mekaar?  

(geskryf deur Trudy Erasmus)

Essay

’n Essay is ’n soort opstel of composition oor ’n spesifieke onderwerp. Die lengte kan van ’n paar honderd woorde, tot ’n boeklengte wissel. Dit is gewoonlik ’n kritiese, maar persoonlik bespreking op ’n formele of informele wyse, sonder om die onderwerp uit te put. ’n Essay se doel is nie ’n wetenskaplike betoog nie, maar haal eerder lewenswysheid uit lewensverskynsels of besin oor die hierdie gebeurtenisse.[1]

Skets

’n Skets is ’n stukkie prosa van beskrywende aard. Visuele indrukke is daarom van groot belang. Ingewikkelde kompositoriese eise word nie aan die aan die skets gestel nie. Indrukke en dit wat die skrywer sien, is van groter belang. [2]

Kortverhaal

’n Kortverhaal is ’n verhalende prosawerk wat van die essay en skets onderskei word deur die verhaalmatigheid van die werk. Anders gestel: ’n Kortverhaal is wanneer iets met iemand op ’n sekere plek gedurende ’n sekere tyd gebeur.

In ’n kortverhaal is die volgende elemente altyd teenwoordig, naamlik: tyd, ruimte, karakters en gebeure. (Al hierdie word later in fynere besonderhede beskryf.)

Vertelwyse en taalgebruik is ander elemente wat in die kortverhaal van betekenis is. Die inhoud van ’n kortverhaal kan tragies, komies, realisties, mities of simbolies wees, maar die skrywer se lewenservaring bepaal dikwels die kwaliteit daarvan.

Die kunstige rangskikking van al hierdie elemente is van groot belang wanneer ’n kortverhaal geskryf word en dit verg buitengewone vermoëns om dit effektief te doen.

So word die aanvangsin, titel en slotsin op mekaar af bestem. In ’n kortverhaal het die skrywer nie plek vir die ontwikkeling van ’n groot aantal karakters nie en moet die skrywer die versameling karakters beperk tot drie karakters.

[1] Cuddon, J.A, Dictionary of Literary terms and literary theory.
[2] Seyffert, M.C.A, “Skets” in Cloete T.T. 
Literêre Terme en Teorie498 

Kwarts bedank Die Skryfbesigheid vir die gebruik van hierdie inligting.

Comments are closed for this post, but if you have spotted an error or have additional info that you think should be in this post, feel free to contact us.

Subscription

Get the latest updates in your email box automatically.

Search

Archive