Martiens Fourie, redakteur van SA Vryskutskrywer se maandelikse nuusbrief, het hierdie onderhoud gevoer met Suzanne Greeff: 

http://www.savryskutskrywer.co.za/nuusbrief2-2016.htm.


1. Wanneer het jy begin skryf en hoekom? Skrywers het nie ’n pensioen nie, boeke maak meestal nie ryk nie. Waarom skryf jy? 

Ongeveer vier jaar gelede het die gedagte om ʼn boek te skryf soos ʼn vuur in my vlamgevat. Die aansporing vir die skielike inspirasie was teleurstelling in my onvermoë om ʼn spesifieke boek op te spoor wat ek op daardie stadium gebrand het om te lees. En dit was ʼn spookstorie. Nie ʼn onrealistiese beskrywing van spoke wat gemik is op jonger lesers nie, maar ʼn regte egte spookstorie. Een wat met genoeg verbeelding dalk kon waar wees. Een wat my net so bietjie moeiliker in die aand aan die slaap sou laat raak. Maar daar was nie enige spookstories gemik op volwasse lesers op daardie stadium beskikbaar nie (in elk geval nie waarvan ek bewus was nie). Toe besluit ek om self een te skryf. So my aansporing was nie geld, roem of faam nie, maar die besluit dat as ek nie ʼn boek te koop kry waarvan ek hou nie dan skryf ek dit self. En so het die gogga, sonder dat ek dit regtig beoog het, gebyt. Nou is skryf ʼn passie wat ʼn integrale deel van my lewe is. 

2. Kortliks: Waaroor gaan Bang vir die Donker? 

Bang vir die Donker is ʼn romantiese spanningsverhaal waarin ʼn sterk liefdeselement en spanningselement ineengevleg is. Die hoofkarakter, Kara Lubbe, besluit om by haar peetouers op hulle plaas, Renostersdrift, in die Mafikeng-distrik te gaan kuier met die doel om navorsing te doen vir ʼn boek wat handel oor die Anglo-Boereoorlog. Uit die staanspoor verander haar kuier egter in veel meer as om net ʼn boek te skryf. Nie alleen verskyn daar 'n aantreklike man in haar lewe nie, maar haar navorsing lei ook tot die oopvlek van geheime wat Renostersdrift vir meer as ʼn eeu teister. Sy loop haar ook onbewustelik vas in die gevare van renosterstropery. Gedurende haar somersvakansie word Kara boonop bewus van ʼn onheilspellende teenwoordigheid. ʼn Teenwoordigheid wat haar met onsigbare oë dophou asof sy hulle uit ʼn eeuelange slaap wakker gemaak het. ʼn Teenwoordigheid wat die vrees wat sy van kleins af met haar saamdra weer in haar laat ontvlam. Haar vrees vir die donker ... Gedurende Kara se verblyf op die bosveldplaas lewer haar soeke na antwoorde veel meer op as wat sy verwag het en moet sy vir die eerste keer haar vrees vir die donker vierkantig in die oë staar. 

3. Het jy al enige iets anders, in byvoorbeeld tydskrifte, gepubliseer? 

Bang vir die Donker is die eerste manuskrip wat ek gepubliseer het. Ek het nooit voorheen enige ander manuskripte ingestuur vir publikasie nie. 

4. Waar het jy die idee vir die boek gekry? 

Ek was nog altyd gefassineerd deur spookstories. My belangstelling in spookstories was grotendeels te danke aan die stories wat my ouers en grootouers aan my vertel het toe ek klein was. Vreemde klanke in die ou plaashuis. Onverklaarbare beelde op helder maanverligte aande. Natuurlik was ek vreesbevange as kind. Maar namate ek ouer geword het, het my vrees omgeskakel in opregte belangstelling. En ek wou hierdie fassinasie en belangstelling verwoord in ʼn fiksieverhaal. En meer spesifiek ʼn romantiese spanningverhaal. 

5. Hoeveel navorsing het jy vir die boek gedoen? (Hoe en waar?) 

Dit was belangrik om ʼn realistiese beskrywing en natuurlike ware feite in my boek te verwoord. Daarom het ek verskeie boeke oor die Anglo-Boereoorlog aangeskaf wat ek gelees en bestudeer het. Ek het ook Internetnavorsing gedoen, spesifiek om foto’s af te laai wat ek in my roman kon beskryf. Ek was ook bevoorreg genoeg om op meer as een geleentheid in Mafikeng besoek af te lê en sodoende te verseker dat my beskrywing van die omgewing, plaas en gebeure korrek en realisties is. Ek het ook navorsing oor renosters en meer spesifiek renosterstropery gedoen. Nuusberigte, boeke, die internet en selfs ʼn geselsie met ʼn wildbewaarder was van onskatbare waarde. 

6. Ek sien iewers Bang vir die donker is ʼn “Romantiese verhaal met ʼn goeie dosis aksie en spookagtige geheime”. Sou jy dit as korrek beskou? Waarom het jy juis so ʼn tipe boek geskryf? 

Bang vir die Donker is ʼn romantiese spanningsverhaal. Soos die meeste vrouelesers is ek baie lief vir goeie romanse. Maar alhoewel ek in my jonger dae tientalle romanses verslind het, was ek altyd gelaat met ʼn gevoel dat ek iets meer uit die boek soek. Ek was mal oor die romantiese elemente maar dit was nie vir my genoeg nie. Ek het verskeie Engelse romanses begin lees en uiteindelik afgekom op die veel bekroonde romantiese spanningsverhale (Romantic Suspense). Romantiese spanningsverhale was egter ʼn relatief onbekende genre in Suid Afrika (veral in Afrikaans) en daarom was dit nie vrylik beskikbaar nie. En daarom het ek besluit om my fiksieverhaal as ʼn romantiese spanningsverhaal te skryf. Dit is ʼn roman met ʼn sterk spanningslyn reg deur die boek. En in Bang vir die Donker is die spanningselement natuurlik die spookagtige gebeure asook die kwellende probleem van renosterstropery. 

7. Wanneer en waar skryf jy? Ek skryf wanneer ek ʼn tydjie kan afknyp. 

Dit is meeste van die tyd in die aande na werk en oor naweke. Ons het ʼn pragtige studeerkamer met dak tot vloer vensters wat uitkyk op ons asemrowende tuin waarin 18 volgroeide dennebome pronk. Maar natuurlik voel dit vir my ek kry heeltemal te min tyd om te skryf. 

8. Hoe het jy te werk gegaan toe jy die boek begin het? 

Ek het eers die geraamte van die storie in ʼn notaboek neergeskryf. Daarna het ek die karakters gelys. Ek het neergeskryf hoe hulle lyk, wat hulle karaktereienskappe is, wat hulle doen, waar hulle bly en waarheen hulle op pad is. Die ligging van my storie was veral belangrik, aangesien Mafikeng so ’n prominente rol in die Anglo-Boereoorlog gespeel het. Toe het ek begin skryf en alhoewel ek ʼn definitiewe idee gehad het oor hoe my boek moet verloop het die karakters eers regtig lewe gekry toe ek begin skryf het. Dieselfde met die plot, die atmosfeer, die ruimte en die einde van die boek. Kortliks kan ek my skryfproses beskryf as ʼn ontdekkingstog, want jy weet nooit regtig hoe die boek gaan eindig voor dit klaar geskryf is nie. 

9. Daar is baie mense wat graag wil skryf. Wat sou jy sê is die eienskappe waaroor ’n voornemende skrywer moet beskik? 

In my opinie moet die skrywer van ʼn fiksieverhaal talent hê, kennis oor die skryfkuns en letterkunde, passie, geduld en deursettingsvermoë.

10. Wat is daar vir jou in die pyplyn? (ʼn Opvolg? Iets “anders”?) 

Ek is reeds besig met die finale afrondingswerk van my volgende roman. Dit is natuurlik weer ʼn romantiese spanningsverhaal, want dit is die genre van my keuse. Die roman is egter anders in die sin dat dit nie weer spookagtige elemente bevat nie. Hierdie keer is dit heeltemal ʼn ander raaisel wat opgelos moet word. 

11. Skryf jy met die bedoeling om sosiale kommentaar te lewer, of omdat jy iets in die media raakgesien het en ʼn storie daarvan wil maak – of suiwer fiksie? 

Ek skryf suiwer fiksie. As ek wel sekere kwelpunte met die skryf van my boeke aanraak is dit bloot deel van die verhaal as geheel. Dit is glad nie geskryf met die bedoeling om sosiale kommentaar te lewer of my opinie oor ʼn spesifieke onderwerp uit te spreek nie. 

12. Wat was die moeilikste aspek van die skryfproses van hierdie boek vir jou? 

Die skryf van die boek self was vir my maklik. Wat wel baie moeilik was, was die afrondingswerk. Dit vat baie baie lank om ʼn boek op so standaard te kry dat dit gereed is om gepubliseer te word. Ek het Bang vir Die Donker vier keer oorgeskryf. Dit was oorspronklik in die eerste persoon geskryf en ek moes die hele boek oorskryf om dit na die derdepersoon te verander. Die afrondingsproses was frustrerend en tydrowend, maar op die uiteinde meer as die moeite werd. 

13. Het jy op enige plek in die manuskrip ’n dooiepunt bereik, en indien wel, hoe het jy dit kon oorkom? 

Ek het baie dooiepunte bereik. Ek dink dit was grotendeels te danke weens die feit dat ek te veel wou skryf in ʼn te kort tydperk. Ek het myself so te sê in ʼn hoek vasgeskryf. Soms moes ek na my oorspronklike notas terugkeer en ander kere moes ek ʼn week of twee rus net om myself toe te laat om weer nuwe perspektief te kry. 

14. Wat lees jy op die oomblik? 

Karen Rose se splinternuwe romantiese spanningsverhaal “Alone in the Dark”. 

15. Het jy, nadat die manuskrip aanvaar is, in alle opsigte na jou redigeerder geluister? 

Ja, ek dink dit is baie belangrik, veral as ʼn debuutskrywer. Redigeerders is gewoonlik ervare professionele persone wie se aanbevelings met ʼn doel en rede gegee is. In my opinie is dit baie onwys om nie hulle aanbevelings te volg nie. 

16. Wat was vir jou die belangrikste: plot, karakter, ruimte, atmosfeer of tema? 

Dit is vir my moeilik om een element spesifiek uit te sonder. Al die elemente vorm ʼn belangrike en integrale deel van die boek as geheel. Ek dink dit is belangrik vir ʼn skrywer om aan elke element afsonderlik aandag te skenk en dit te ontwikkel. 

17. Wie is jou skryfhelde (plaaslik en Afrikaans, maar ook internasionaal)? 

My “skryfhelde”, as mens hulle so kan noem, is Dan Brown en Karen Rose (sy is die inspirasie agter my besluit om romantiese spanningsverhale te skryf). Wat Afrikaanse skrywers betref kan ek nie regtig een spesifieke skrywer uitsonder nie. Ek kan wel noem dat my gunsteling Afrikaanse boek “Die Soenoffer” is deur Isa Conrad. 

18. Wat dink jy is die grootste fout wat beginnerskrywers maak? 

Ek kan nie vir ander skrywers praat nie, maar as ek na myself moet verwys sal ek sê dit was die verwagting dat my manuskrip onmiddellik aanvaar sou word vir publikasie. Ek onthou dat ek aan die begin trots my manuskrip voorgelê het vir publikasie sonder om dit na te gaan vir spel- en ander foute. Ek was onder die indruk dat ek geen probleem sou hê om my boek te laat publiseer nie. Ek het ook verwag dat die uitgewers my boek self sou redigeer, proeflees en selfs verbeter indien nodig. Groot was my verbasing toe die uitgewers my laat weet het dat my manuskrip nie aanvaar is vir publikasie nie. Toe eers het ek besef dat ek meer moeite met die manuskrip sal moet doen as ek eendag my boek op die winkelrakke wil sien. Die publikasieproses is lank en moeilik. ʼn Manuskrip moet goed geskryf en verwerk wees voor dit aanvaar sal word vir publikasie. 

19. Vertel ons iets omtrent jouself. 

Ek kom van ʼn klein plattelandse dorpie, Piet Retief, af. Ek het regte aan die Universiteit van Pretoria gestudeer. Alhoewel ek ʼn toegelate prokureur is, praktiseer ek nie tans nie. Ek gee volwasse opleiding in derdepartyreg en ontwikkel en skryf ook opleidingsmateriaal. Ek het die liefde van my lewe op Universiteit ontmoet. Ons is so elf jaar gelede getroud en ons bly op die oomblik in Centurion met ons hondekind, Willow. 

20. Enige ander aspekte van die skryfproses wat jy wil noem? 

Dit is belangrik om te onthou dat die skryfproses nie stop by publikasie van die boek nie. Die bemarking wat na publikasie volg is amper net so belangrik, indien nie belangriker as die skryf van die boek nie. Sonder ʼn deurdinkte bemarkingstrategie gaan lesers nie weet van die boek nie. Maak gebruik van sosiale media. Kontak tydskrifte en koerante en versoek moontlike resensies van die boek. Kontak boekwinkels en vra of hulle bereidwillig sal wees om die boek in hulle winkels te verkoop. Dit is ook belangrik om mense aan die praat te kry. In my opinie: hoe meer mense oor jou boek praat en dit bespreek, hoe makliker is dit om dit te verkoop.