News From Kwarts Publishers

Voldagwerkwinkel oor die skryf van tydskrifverhale - aangebied deur Die Skryfbesigheid

Tydskrifverhale bied aan nuwelingskrywers ’n unieke geleentheid om te publiseer. Al kan ’n skrywer oor ’n verskeidenheid temas skryf, verg die skryf van tydskrifverhale strawwe dissipline. Nuwelingskrywers trap dikwels ook klei met die temas van hulle verhale. Die meeste tydskrifverhale moedig eerder ontspanning en ontvlugting aan as moeilik verteerbare emosionele temas; die keuse van die tema is daarom baie belangrik.

Ons het dus besluit om ’n voldagwerkwinkel oor die skryf van tydskrifverhale aan te bied. Die verhaleredakteur van Vrouekeur, Dineke Volschenk, tree as hoofspreker op. Skrywers sal dus by haar persoonlik hoor aan watter vereistes verhale moet voldoen alvorens dit vir publikasie aanvaar kan word.

PLEK 

Die voldagwerkwinkel word in Pretoria by Villa Amor Gastehuis, Plot 288, Arthurweg, Shere, Pretoria-Oos aangebied. Arthurweg draai skuins oorkant die CVO-skool uit Grahamweg (die verlenging van Lynnwoodweg). Besoek www.villaamor.co.za vir GPS- koördinate en foto’s. 

ANDER SPREKERS 

  • Desirée Homann het ’n meestersgraad in Kreatiewe Skryfkuns en sy vertaal Mills & Boon-boeke in Afrikaans.
  • Trudy Erasmus is ’n gepubliseerde kortverhaalskrywer (waarvan heelparty tydskrifverhale is) en ’n Afrikaans onderwyser.
  • Marietjie Wentzel is ’n taalpraktisyn en manuskripontwikkelaar. 

TOELATING 

Enige persoon kan vir hierdie werkwinkel inskryf. Geen teoretiese studies of opleiding is nodig nie. Almal wat inskryf word egter versoek om wel die volgende vooraf te doen:

  1. Lees ten minste agt kortverhale wat in Vrouekeur gepubliseer is en ten minste twee rooi rose-kortverhale.
  2. Stuur teen 15 Oktober 2015 ’n kortverhaal wat jy self geskryf het, vir Marietjie Wentzel. Gebruik die e-posadres [email protected]. Die kortverhaal moet op die kop 1500 woorde hê. Hierdie is ’n voorvereiste omdat daar na middagete groepsbesprekings in kleiner groepe plaasvind waartydens jy die geleentheid sal kry om jou verhaal te verfyn. (Moenie bekommerd wees nie. Terugvoer geskied in ’n simpatieke atmosfeer en groepwerk is die beste manier om te leer.) 

ONDERWERPE 

Die volgende onderwerpe sal tydens die werkwinkel bespreek word: 

  1. Sub-genres van die Afrikaanse prosa: Waar pas die tydskrifverhaal in?
  2. Die vereistes waaraan tydskrifverhale moet voldoen om vir publikasie oorweeg te word en die mees algemene foute wat skrywers begaan.
  3. Praktiese hulp met die skryf van tydskrifverhale.
  4. Die finale versorging van jou verhaal.

KOSTES 

Werkwinkel 

Die voldagwerkwinkel kos R650 en sluit die volgende in:

  1. Verversings
  2. Kursusmateriaal
  3. Ligte middagete 

As bonus maak jy vriende met persone wat dieselfde belangstellings as jy het en raak so deel van die uitgebreide skrywersnetwerk van Die Skryfbesigheid. Jy kom ook agter daar is ander persone wat jou belangstelling deel. Enige persoon wat voorheen die dienste van Die Skryfbesigheid gebruik het of ’n kursus, werkwinkel of seminaar bygewoon het wat Die Skryfbesigheid aangebied het of daarby betrokke was, moet dit asseblief duidelik meld omdat ons gereelde kliënte ’n gawe afslag kry. 

Akkommodasie 

Skrywers wat die werkwinkel bywoon en wil oornag, moet asseblief direk by Barry du Plessis van Villa Amor bespreek. Sy telefoonnommer is: 0832312063 of stuur ’n e-pos aan [email protected]. Meld in jou navraag dat jy die werkwinkel bywoon omdat Barry 15% afslag op akkommodasie aanbied vir diegene wat daar oornag. 

DEPOSITO 

Gewoonlik vereis ons dat die volle werkwinkelfooi met die bespreking betaal word, maar ons wil graag ons skrywers tegemoet kom. Ons vra ʼn deposito van 50% van die werkwinkelfooi. Die deposito is teen die laaste datum van bespreking, naamlik 15 Oktober 2015, betaalbaar terwyl die res voor 31 Oktober 2015 per EFT of met registrasie in kontant betaal moet word. Reëlings vir afbetaling kan getref word. 

Skrywers verbeur die volle deposito of fooi wat vooraf betaal is indien hulle nie vir die werkwinkel opdaag nie of kop uittrek. Ons gaan baie onkostes aan voor die werkwinkel begin en kansellasiefooie vir Die Skryfbesigheid se rekening is in alle gevalle betaalbaar wanneer iemand kanselleer of nie opdaag nie. 

BESPREKING 

Bespreking is NOODSAAKLIK en dit moet voor of op 15 Oktober 2015 om 23:00 plaasvind. Gaan asseblief so te werk om te bespreek:

  1. Stuur ’n e-pos of sms aan Die Skryfbesigheid waarin jy ’n kwotasie aanvra.
  2. Meld in jou e-pos of sms:
    a. Jou noemnaam en van.
    b. AL jou telefoonnommers, faksnommer en e-posadres.
    c. Watter kursusse jy al bygewoon het of van watter dienste van Die Skryfbesigheid jy al gebruik het.
  3. Wag vir die kwotasie en registrasiedokument.
  4. Betaal die volle werkwinkelfooi of 50% daarvan as deposito nadat jy die skriftelike kwotasie en registrasiedokument ontvang het.
  5. Stuur bewys van betaling en die ingevulde registrasievorm aan Die Skryfbesigheid by [email protected]
  6. Andersins kan jy die elektroniese vorm invul wat aanlyn beskikbaar is. 

REGISTRASIE

Registrasie begin op 31 Oktober 2015 stiptelik om 08:00. 

BRING SAAM

  1. ’n Eksamenblok en ander skryfbehoeftes soos bv. potlode, penne ens.
  2. Al is dit dan reeds vroegsomer, beveel ons aan dat jy ’n warm baadjie, trui of reënjas saambring. Mens weet nooit hoe verander die weer nie.
  3. Bring gerus jou kamera saam. Ons wil graag selfies en wefies saam met jou neem veral sodat dit op sosiale media kan verskyn.
  4. Chroniese medikasie waar nodig.
  5. Kontant. (Tydens etenstyd kan drankies van ʼn kontantkroeg bestel word.) 

BELANGRIK

Reis- en verblyfkostes na en van die werkwinkel is die skrywer se eie verantwoordelikheid. 

NAVRAE

Werkwinkel:
Die Skryfbesigheid Marietjie Wentzel Telefoon: 082 570 6677 /  E-pos: [email protected]
Trudy Erasmus Telefoon: 072 210 4385 (Slegs SMS’e tot smiddae 16:00) Faks: 086 618 5211 E-pos: [email protected] 

Comments are closed for this post, but if you have spotted an error or have additional info that you think should be in this post, feel free to contact us.

Subscription

Get the latest updates in your email box automatically.

Search

Archive