News From Kwarts Publishers

Kom ons skryf kinderstories - Deel 2

(Geplaas met vergunning van Marietjie Wentzel - Die Skryfbesigheid) 

Waarna soek die meeste uitgewers deesdae?

Kinderverhale is by uitstek ’n genre waarin pret en kreatiwiteit moet seëvier. Daarom soek uitgewers na

  • tekste wat teikenmark gerig is;
  • skrywers wat die teikenmark ken;
  • presies weet vir wie hy/sy skryf; asook
  • oorspronklikheid.

Praktiese skryfwenke 

Noudat jy sekerlik ’n hele klomp kinderstories gelees, ’n paar prenteboeke deurgeblaai en deeglik beplan het aan jou kinderstorie, is dit tyd vir ’n paar praktiese skryfwenke.

1. Skryf uit die kind se perspektief

Die storie word vertel uit die perspektief van ’n karakter met dieselfde ouderdom as die teikengroep vir wie jy skryf. Vermy volwassenes se perspektief. Vir jong lesers/luisteraars kan perspektiefwisseling verwarrend en hinderlik wees. Probeer so oortuigend moontlik uit die kind se perspektief skryf.

’n Algemene fout wat beginnerskrywers maak, is om te veel verkleinwoorde in kinderverhale te gebruik. ’n Kind of karakter soos ’n kabouter of feetjie, sien nie sy eie liggaamsdele as “klein” nie en sal nie aanhoudende van sy “koppie”, “oortjies” of “armpies” praat nie.

2. Handhaaf ’n vinnige pas

Die koms van die digitale era en die snelle ontwikkeling van tegnologie, maak toenemend van kinders ongeduldige lesers. Jong lesers/luisteraars raak gou verveeld, daarom is dit die skrywer se plig om die pas van die storie flink te hou. Vermy onnodige beskrywings en besinnende gedeeltes. Fokus op die storielyn.

3. Moenie neerbuigend wees nie

Volwasse skrywers is geneig om “af te praat” na kinders. Verhoed dat jou stem en rol as volwassene in die storie deurskemer. In ’n sekere sin moet jy ’n “medepligtige” eerder as ’n storieverteller word. Aanspreekvorme soos “maatjies” in ’n sin soos: “Maatjies, kan julle raai wat volgende gaan gebeur?” is taboe. ’n Neerbuigende houding skemer makliker deur wanneer ’n skrywer doelbewus “oulik” probeer skryf.

4. Vermy sedepreke en lessies

Baie skrywers meen kinderstories behoort ’n implisiete of eksplisiete les of boodskap te bevat. Die meeste uitgewers vermy sulke stories ten gunste van stories wat daarop gemik is om jong lesers te vermaak en ’n liefde vir lees aan te kweek.

5. Skryf oortuigende dialoog

Gaan luister hoe praat die kinders vir wie jy wil skryf. Hulle taalgebruik is baie anders as waaraan volwassenes gewoond is. Dis uiters belangrik dat karakters se dialoog oortuigend is. Tieners sal byvoorbeeld nie sê: “ My ouers laat my nie toe om na ruk-en-rol-musiek te luister nie.” Waak egter teen die oormatige gebruik van slengtaal in dialoog, dit kan onnatuurlik en selfs geforseerd klink.

6. Pasop vir rym

Min skrywers het regtig die talent om kinderverse of -stories op rym te skryf. Rymdwang en flou versies kan ’n andersins belowende storie maklik bederf.

7. Hou prente in gedagte

In prenteboekteks is dit belangrik om te onthou dat prente baie van die praatwerk doen. Dit is dus nie nodig om karakters se voorkoms of die omgewing in detail te beskryf nie. Dis ook nie nodig om self die illustrasies of prente te verskaf nie, want uitgewers sal self bekwame professionele illustreerders aanstel en vergoed indien illustrasies nodig is.

8. Pasop vir pratende diere of voorwerpe

’n Baie bedrieglike genre is diereverhale. Dit lyk aanvanklik maklik, maar karakters is meestal oorbekend of temas is holruggery. Kyk gerus hoeveel kinderstories daar is met pratende diere en besluit of jy regtig iets nuuts met hierdie soort karakters kan doen. Vermy ook karakters soos Tiekie Tor, Radie Rot of Kosie Kussing. Stories oor lewelose voorwerpe kom meestal nie die mas op nie en is geneig om kinders se intelligensie erg te onderskat.

9. Dink vars en nuut

Vermy stereotipes soos die skelm jakkals, stadige skilpad of flukse mier. Hou ook in gedagte dat karakters soos die Tandmuis, Klaasvakie, feetjies en kabouters al tot vervelens toe in kinderboeke gebruik is

Watter genre jy ook al kies, die belangrikste van alles is: Geniet dit! As jy besluit om vir kinders te skryf, tel jy die sleutel op wat die hangkas na ’n betowerende wêreld oopsluit. ’n Wêreld waar die onmoontlike kan gebeur, waar skrik en lag om elke hoek kan wag, waar jong seuns towenaars kan wees, ’n skoolmeisie ’n perd kan ronddra of waar jy weer sestien jaar oud en halsoorkop-dolverlief kan raak.

"Jy moet vir kinders skryf op dieselfde manier as wat jy vir grootmense skryf, net beter." - Maxim Gorky

Bron:

Die Afrikaanse Skryfgids, saamgestel deur Riana Scheepers en Leti Kleyn, Penguin Boeke, Johannesburg. 2012

 

Comments are closed for this post, but if you have spotted an error or have additional info that you think should be in this post, feel free to contact us.

Subscription

Get the latest updates in your email box automatically.

Search

Archive