News From Kwarts Publishers

Die Eiesinnige Kind skryf ‘n sprokie vir haar pa...

Die Kat met nege lewens: ’n Sprokie is die doodeerlike vertolking van ’n dogter se verhaal oor haar pa se inspirerende soektog na die graal, asook die kanker wat hulle albei bevry het en die band tussen hulle versterk het. Pyn en uitdagings het ’n lig op die lewenspad van hierdie besondere man laat skyn sodat sy lewensdoel en transformasie duidelik sigbaar is om as ’n inspirasie vir ander te dien. Wanneer moed verloor word, krap dié Gestewelde Kat in sy toksak na die volgende lewe. Soos die musketierkat in die sprokie, die Markies van Karabas, skuif hy sy geveerde hoed reg, stileer sy snorbaarde en gryp na sy swaard om vir oorlewing te veg.

Yolanda Faye Holden het onder die skrywersnaam Die Eiesinnige Kind, hierdie boek geskryf om saam te val met haar merkwaardige pa se 80ste verjaardag. Abie Botha van Orkney in Noordweste is ’n beroemde in eie reg. Hy is al die afgelope 17 jaar die oudste trapper by die Beeld-Kinderfonds se jaarlikse spin-marathon ten bate van liefdadigheid. Wat die prestasie nog merkwaardiger maak, is dat hy in hierdie tyd verskeie ernstige uitdagings die hoof gebied het. In 2004 moes ’n deel van sy tong weens kanker in die mond verwyder word. Hy het volkome herstel en is nog steeds kankervry. In 2008 het hy ’n driedubbele hartvatomleidingsoperasie ondergaan. Dieselfde jaar is hy deur ’n onverskillige motoris omgery en het hy inwendige beserings opgedoen. Later het hy tydens ’n fietswedren ’n nekwerwelfraktuur opgedoen en moes hy ses weke lank met ’n ongemaklike harnas rondloop. Ten spyte van al hierdie ongelukke, spin Oom Kanniedood steeds vir liefdadigheid. Abie neem gereeld aan pretlope ten bate van Kansa en ander liefdadigheidsprojekte deel – voorwaar ’n kat met nege lewens!

Yolanda werk in Kommunikasie en Navorsing by die departement van basiese onderwys in Pretoria. Sy het ‘n geesdriftige liefde vir boeke en haar gunsteling-genre is Fantasie. Sy skryf tans aan haar digbundel wat later verjaar sal verskyn en het ook vele ander skryfprojekte in die pyplyn.

Comments are closed for this post, but if you have spotted an error or have additional info that you think should be in this post, feel free to contact us.

Subscription

Get the latest updates in your email box automatically.

Search

Archive