News From Kwarts Publishers

Boekpersoonlikheid van die week: Adrie F. Jooste

Adrie Jooste

In 2012 het Adrie Jooste haar eerste boek die lig laat sien. Sedertdien het hierdie skrywer van geestelike boeke nie op haar laat wag nie en het sy nog vier titels publiseer. Kwarts Publishers is bevoorreg om deel van hierdie projekte te kon wees en het bietjie meer by Adrie oor haar passie gaan uitvind:

Wanneer en hoekom het jy begin skryf?

Ek skryf nog my hele lewe lank. Skool was ʼn fees, want ek kon lees, skryf én studeer. Ek het nog altyd op my gelukkigste gevoel as ek ʼn pen of potlood in die hand het en ʼn skoon bladsy voor my wat wag om op geskryf te word. So ook was ʼn rekenaar ʼn wonder wat ek elke dag kan geniet.

Hier op my “oudag” het iemand my aangemoedig om my droom uit te leef om skryf en te publiseer. Op daardie stadium het ek ʼn leemte en behoefte gehad aan ʼn boek oor die relevansie van die hele Bybel en onderwerpe soos die Ou en Nuwe Verbond, wie die God van die Ou Testament was, ens. Ek kon nêrens ʼn boek met hierdie spesifieke onderwerp kry nie en het besluit om self te begin skryf aan een. So het ek begin skryf en publiseer. Nadat my eerste boek in 2012 die lig gesien het, is my lewe, en vele ander se lewens, daardeur verryk en verander.

Het jy ’n spesifieke skryfproses? Indien wel, vertel ons bietjie meer daarvan.

Ek het beslis ʼn definitiewe skryfproses. Voor ek begin skryf, moet ek goed weet waaroor ek gaan skryf en ʼn titel vir die boek hê. Ek moet dit in my geestesoog kan sien. Omdat ek geestelike boeke skryf, lees ek geweldig baie op oor die spesifieke onderwerp waaraan ek werk. Ek stel dan ʼn volledige raamwerk – selfs die uitleg en indeling van die verskillende hoofstukke – op. Dit alles doen ek in gebed en die wonder daarvan is dat die Here heeltyd met my saamwerk.

 Ek skryf eers al die inligting wat ek versamel met die hand neer. Daarna sorteer ek dit uit en begin die hoofstuk ook met die hand (met potlood) skryf. So skryf ek die hele boek eers met die hand uit. Dit laat my beter dink. Daarna begin ek dit tik op die rekenaar.

Wat sal jy sê is van die grootste uitdagings tydens die skryfproses?

Die grootste uitdaging vir my tydens die hele proses is om al die inligting wat ek versamel en neergeskryf het – meestal uit die Bybel as hoofbron – sinvol saam te stel. Ek moet baie seker maak dat dit Skrifgetrou is en nie net my persepsie of verstaan daarvan nie. Daarom vergelyk ek Skrif met Skrif om dit wat ek geskryf het te bevestig. Die eerste skryf is die bakstene en daarna, met die volgende deurgaan, begin ek dit met sement vul sodat dit ʼn sinvolle eenheid vorm.

Die versamel van inligting is ʼn fees. Dis ʼn passie. Die sinvolle, verstaanbare samevoeging van al die inligting is die groot en harde werk. Dan volg die taalversorging en proefleeswerk daarvan natuurlik.

Waar is jou gunsteling plek om te skryf en hoe gereeld skryf jy?

Ek skryf elke dag! My groot eetkamertafel is my ideale skryfplek. Die hele tafel lê vol Bybels, konkordansies, Bybelwoordeboeke, en hope ander bronne. Ek lees uit almal dele wat van toepassing is. Gelukkig is ek nie lief vir kosmaak nie, want my eethoekie lê ook vol boeke, hope papiere, penne en potlode! My eetkamer en kombuis lyk gewoonlik meer na ʼn boekwinkel met elke skryfbehoefte denkbaar. Ek kan myself nie help nie, want ek moet elke dag iets met die hand neerskryf – ʼn nuwe idee, gedagte, of soms net mooi Bybelversies.

 Watter van jou boeke het ’n spesiale plek in jou hart en hoekom? Is daar een wat vir jou uitstaan?

Al die boeke wat ek geskryf het, het ʼn spesiale plekkie in my hart, want elkeen vertel ʼn besondere verhaal. Dis asof daar ʼn stukkie van myself in elkeen van my boeke is. ʼn Openbaring, ʼn stukkie weerloosheid, en ʼn stuk blootstelling. Maar die een boek wat my in verwondering en vervoering het, is Die Sleutels van die Koninkryk. Die Here het my ʼn stukkie van die hemel gewys met die boek. Telkens as ek weer na die boek kyk en die inhoud lees is ek net woordeloos in bewondering en liefde vir my Vriend, my Jesus. Hy het my geïnspireer en gehelp om die boek te skryf. Dit gaan glad nie oor my nie, maar alles oor Hom.

Wie is jou grootste ondersteuner op hierdie skryfpad?

Beslis my man, Piet. My sielsgenoot en die liefde van my lewe. Hy ondersteun my, gee my idees, en bevraagteken soms iets. Sonder hom sou ek dit nie kon doen nie. En ek weet dat my Here my ook ondersteun. Ek was byvoorbeeld een keer nie seker of ek oor ʼn sekere karakter in die Bybel moes skryf nie. Elke dag, en op die vreemdste plekke, het die karakter opgeduik. Tot ek vir die Here gesê het: “Ek kry dit. Ek sal oor hom skryf.” Wie kan vir meer ondersteuning vra as dit?

Lees jy baie en wie / wat is jou gunsteling skrywer(s) / boeke?

Natuurlik is die Bybel my gunsteling boek. Dit het die pragtigste verhale – liefdesverhale, intriges, geskiedenis, ag noem dit op en dis in die Bybel. Ek kan nie genoeg daarvan kry nie. Ek lees baie – elke dag, heel dag. Daar is boeke op my bedkassie, oral waar ek in die huis sit of ʼn plekkie het, lê ʼn boek. Uit elkeen word gelees. Soms net ʼn hoofstuk of gedeelte, en ek onthou wat ek in watter boek gelees het.

Rancy Alcorn se Heaven, Dr Henrietta C. Mears se What the Bible is all about, Answers Book 1 – 3 van Ken Ham (wat handel oor die Skepping en evolusie), al Joseph Prince, Perry Stone, Smith Wigglesworth, Max Lucado, en nog vele ander se boeke. O, en Gene Edwards se The Divine Romance. My tone krul sommer as ek hierdie boeke lees. Sommiges sal ek oor en oor lees so mooi word gebeure uit die Bybel beskryf. Mooi woorde en besondere beskrywings gee my groot lekkerkry. Daarom seker dat ek al die Harry Potter boeke gelees het. Alleenlik oor die totaal anderse aanslag en beskrywing van dinge. So ook The Shack en Crossroads van William P. Young. Dis anders en pragtig. Selfs uit dié boeke het ek al baie geleer.

Wat is volgende? Waaraan werk jy tans?

Ek bied twee Bybelstudieklasse aan per week, so ek het dus nie baie vrye tyd nie. Maar ek is besig om Die Bruilofslied vir die Messias in Engels te vertaal. Ek het ook begin werk aan ʼn nuwe boek, getiteld Begin, waaroor ek baie opgewonde is. Ek plaas nie tans druk op myself met die skryf van die boek nie. Ek het ook intussen ʼn boekie geskryf oor Heelheid (Wholeness) na aanleiding van ʼn praatjie wat ek gelewer het by ʼn groep Radiance jong dames van die kerk. Ook tans besig met ʼn boekie oor die ooreenkoms tussen die Wet (Tien Gebooie) en diëte en waarom diëte nie werk nie. Tussenin skryf ek ʼn boek oor my man se lewe, Strength in Weakness. Dit alles hou my geweldig besig.

 Titels uit Adrie se pen: Die Bruidegom kom, Krummels, Here, Hoekom so!, Die Sleutels van die Koninkryk en Bruilofslied vir die Messias.

Vir meer inligting oor haar boeke en waar om dit aan te koop, kontak Adrie via e-pos by [email protected]

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Comments are closed for this post, but if you have spotted an error or have additional info that you think should be in this post, feel free to contact us.

Subscription

Get the latest updates in your email box automatically.

Search

Archive