News From Kwarts Publishers

Boekpersoonlikheid van die week: Tania Smit

thumbnail

Ons gesels hierdie week met Tania Smit, skrywer van die varsgepubliseerde Hekelwoorde van my Hart en eienaar van die Facebook-blad met dieselfde titel. Tania toor met woorde en haar stories en gedigte dien as pitkos vir die siel en inspirasie vir baie.

Het jy nog altyd geskryf? Wanneer het jy jou gedagtes begin neerpen en begin deel?

Ek het vyf jaar gelede saam met ʼn vriendin in die Karoo gaan staan met my pa se ou 4x4, en ons het ʼn hele avontuur in die veld gehad waaroor ek toe geskryf het. Die reaksie op die stukkie wat so positief dat ek van toe af maar net aangehou het.

Vertel ons meer oor wat jou inspireer om te skryf:

Ek dink elke skrywer se stories lê maar in sy of haar oë of hart. Dit wat jy sien en voel. Meestal kom die eerste sin in my kop op, en dan moet ek net daar stop met alles waarmee ek besig is en dit op papier kry voor die woorde wegwaai. Met moeilike kwessies, soos die stuk oor egskeiding, moet ek baie lank herkou voordat ek al die woorde kon gaan haal.

Het jy ʼn skryfproses? Indien wel, wat is dit?

Ek het geen proses of reëls nie, ek doen dit maar soos dit vir my op daardie oomblik reg voel.

Watter skrywers en boeke is jou gunsteling?

Paulo Coelho is van altyd af my gunsteling. Sy stories kan deur elke soort mens met enige geloofsoortuiging verteer word, en ek verkneukel my aan sy wyshede.

Watter boek het die grootste indruk op jou gemaak?

Shantaram, van Gregory David Roberts. Dit is ʼn outobiografie wat jy met ʼn potlood lees en onderstreep; mens kry nooit genoeg van sy mooi nie. Hy het ook die boek drie maal geskryf in die gevangenis – die vorige twee kere was dit deur die wagte gekonfiskeer – en hy het dit dan net weer van voor af geskryf. ʼn Ongelooflike verhaal van persoonlike groei en oorwinning.

Het jy enige ander stokperdjies?

My grootste stokperdjie is mense, daarom is ek ook lief vir fotografie. Ek sit op sosiale plekke soos restaurante, markte of strate met my lang lens en neem die interaksie van mense met ander, of hulleself, af. Ek is ook baie lief vir nuwe grondpaaie, en ander kulture.

Jou woorde raak verseker baie mense as mens na die kommentaar op Hekelwoorde van my Hart se Facebook-blad kyk. Waarom dink jy spreek jou woorde tot so baie?

Omdat ek nie meer skaam is vir my menslikheid en feilbaarheid nie, skroom ek nie om op ʼn diep vlak van kwesbaarheid te deel nie. Dit weerklank met baie mense se eie emosies wat hulle nog voel hulle moet wegsteek, en dan besef hulle is eintlik net mens.

As jy enige plek op aarde kan bly, waar sal dit wees en hoekom?

In my eie vel, en in my eie lewe. Ek dink die grootste geskenk wat mens jouself kan gee is om gelukkig te wees met die lewe wat jy het. Om my lewe in te kleur sal ek graag (baie graag) ʼn paar maande in Marokko (veral Chefchaouen) wil deurbring. Ek is verlief op daardie land, sy mense en sy kleure.

Wat is die grootste les / lewenswysheid wat jy geleer het as ma?

Dat 20% soms jou 100% is, en dat jy jouself moet vergewe daarvoor. Daar is niemand op die aarde vir wie mens meer sal gee as jou kinders nie, so dit kom vanself dat mens vir hulle altyd jou beste sal doen (al voel dit of mens aanmekaar te kort skiet).

Het jy planne vir nog ʼn bundel/boek in die toekoms?

Die bundels sal kom soos die woorde kom. As die woorde die dag op is, dan is die storie van die bundels ook op ʼn einde.

Hoe belangrik is bemarking (as selfgepubliseerde skrywer)?

ʼn Goeie vriendin, wat ʼn skrywer is, het voorgestel dat ek my Facebook-blad begin Februarie verlede jaar, en dit was die beste raad wat ek ooit ontvang het. Daar is nou meer as 13 000 mense op die blad, en hulle is my kliënte met wie ek direkte kontak het. Ek het geen idee waar ek sou begin as ek nou moes bemark aan lesers sonder name nie.

Wat doen jy as jy nie met woorde toor nie?

Ek probeer my lewe voluit leef en balans nastreef (wat my altyd ontgaan). As ek harder moes werk probeer ek tyd maak om meer kreatief te wees (skryf, foto’s, kosmaak), en net mens wees saam met my kinders en geliefdes. Maar deesdae probeer ek maar net met my siel my lyf inhardloop van agter af – tyd is altyd onder my uit.

Gaan lees gerus Tania se bloginskrywings by https://www.facebook.com/hekelwoorde/

Om jou hande op 'n kopie te kry: www.hekelwoorde.co.za

Comments are closed for this post, but if you have spotted an error or have additional info that you think should be in this post, feel free to contact us.

Subscription

Get the latest updates in your email box automatically.

Search

Archive