News From Kwarts Publishers

Boekpersoonlikheid van die week: Herman Beukes

thumbnail

Ontmoet vir Herman Beukes, die talentvolle skrywer van die misdaadverhale Meisie van Mont Blanc en Dag van Wraak wat deur Kwarts Publishers uitgegee is. Ons het bietjie meer oor hom en sy liefde vir skryf gaan uitvind.

Wanneer het die skryfgogga jou beetgepak?

Ek wou al van my skooldae af skryf, maar het nie werklik geweet hoe om te werk te gaan nie. Dit het vir my ʼn werklikheid geword toe Leon Meyer en ek met die Babylon-reeks begin het. Ek het net daarna my eerste Afrikaanse verhaal geskryf.

Wanneer en waar skryf jy gewoonlik?

As ek by die werk tyd kry gedurende my etenstyd, of andersins laat in die aande, veral as ek sukkel om te slaap! (Nie aan te beveel nie, anders kan jy glad nie daarna slaap nie!)

Vertel ons ’n bietjie meer van jou skryfproses.

Die storie is amper soos ʼn film wat in my kop afspeel. Sodra ek by my rekenaar gaan sit en begin skryf kom die woorde. Ek skryf wat ek sien soos die karakters met mekaar praat en hulle ding doen. Ek gaan selde terug om groot dele van die storie oor te skryf. Ek sal korreksies hier en daar maak om dinge duideliker te maak, maar die storie vloei by homself.

Hoe lank neem dit vir jou om ʼn boek te skryf?

Hang af hoe koud die winter is! Dan hiberneer ek liewer. Gewoonlik skryf ek so vyf tot sewe maande aan ʼn boek as ek braaf genoeg is om dit deur die winter vol te hou, soos hierdie jaar toe ek Bloedspoor geskryf het.

Waar kry jy die idees vir jou boeke vandaan?

Meestal uit die alledaagse dinge wat in die wêreld gebeur. Partykeer sal ek ʼn artikel lees in ʼn koerant of tydskrif wat my gedagtes op hol jaag. Ek begin dan skryf sodra ek ʼn beginpunt het vir die storie. Die res sorteer homself uit soos die storie ontvou.

Watter skrywer(s) en boeke is jou grootste inspirasie?

Ek lees veral Wilbur Smith se boeke en hou van sy skryfstyl.

Noem die boek wat die grootste indruk op jou gemaak het. Hoekom?

Daar is nie een spesifiek nie.

Wat is die beste advies wat jy nog gekry het rakende die skryf van boeke?

Moenie ophou nie, ten spyte van wat mense en kritici daaroor sê.

En het jy enige advies vir aspirant skrywers?

Maak ʼn begin! Baie wil begin skryf, maar kom nooit sover nie. Doen dit net! Ek wens ek het vroeër in my lewe begin. Skryf omdat jy dit geniet. Sodra dit ʼn werk word, los dit liewer en gaan speel gholf . . .

Begin by kortverhale totdat jy die proses onder die knie het.

As jy enige plek op aarde kan bly, waar sal dit wees en hoekom?

Suid-Afrika. Dit bly maar my geboorteland en dit staan nie terug vir enige ander plek op aarde wat natuurskoon betref nie.

Hoe belangrik is bemarking? Wat doen jy om jou boeke te bemark?

Baie belangrik. Nie genoeg nie! Dit kos geld . . .

Wat, volgens jou, is die definisie van ʼn suksesvolle skrywer?

Dit is moeilik. Ek sou sê dit is iemand wat dit kan regkry om sy lesers keer op keer te boei met sy stories sodat hulle nooit genoeg kan kry om dit te lees nie.

Wat doen jy as jy nie skryf nie?

Werk vir ʼn lewe! Ongelukkig moet ek iets doen om kos op die tafel te sit en te kan lewe. Om self te publiseer is ʼn duur proses, en daar is geen waarborg dat jou boeke genoeg sal verkoop om die onkostes te dek nie.

Hoe belangrik vir jou is die rol van die uitgewer in die proses?

Tussen die taalversorging en die uitgewer maak dit jou boek iets besonders waarop jy trots kan wees. Sonder hulle harde werk is dit net ʼn dooie ding. Hulle gee mening en kleur aan jou werk.

Waaraan werk jy tans?

My derde boek, Bloedspoor. Dan is ek ook reeds besig om te beplan aan boek vier wat nog nie ʼn titel het nie.

Vir meer inligting oor Herman se boeke, of waar om dit in die hande te kry, besoek sy webtuiste: www.beukesbooks.com

Comments are closed for this post, but if you have spotted an error or have additional info that you think should be in this post, feel free to contact us.

Subscription

Get the latest updates in your email box automatically.

Search

Archive